Jeugpreke

ONS IS WENNERS VIR CHRISTUS

Skriflesing: Joh 5:1-9

Liedere: Ges 62:1,3,5

Ges 9:3,4

Lank, lank gelede in 'n baie ver land - Lanklonia, het daar baie mense gewoon. Maar die mense was anders gewees. Sodra 'n kind gebore is, is daar 'n yster ketting met 'n swaar ysterbal aan sy been vasgesit. Ja, 'n swaar ysterbal aan sy regterbeen.

Die mense was gewoond aan die balle, hulle het nou wel stadiger as ons beweeg, hulle kon nie swem nie, of anders gestel, hulle kon geen watersport doen nie, anders het hulle gesink. Almal in die gemeenskap het so 'n bal saam gesleep en almal was gewoond daaraan.

Ons held in die verhaal se naam is: Tommy.

Eendag het Tommy in die bos gespeel. Hy was alleen daar. Sy bal se ketting haak toe tussen twee rotse vas, en daar sit hy. Hy het getrek en geruk en gepluk: Skielik breek die ketting teen sy been af. Dit was 'n geweldige ervaring vir hom gewees. Hy was heeltemal van balans af en kon skaars regop loop, want hy had nie meer die swaar bal wat hom rem nie. Hy het dit vreeslik geniet sonder die swaar bal. Hy het homself leer swem, en hardloop en boom klim, ag alles wat ons kan doen het hy begin doen. Maar toe die son sak besef hy hy kan nie sonder sy bal huistoe gaan nie. Sy huismense sal met hom raas.

Hy sit toe met 'n swaar hart die bal weer vas aan sy been en keer terug huistoe. Maar hy het nou elke dag bos toe gegaan, die bal afgehaal en sy vryheid geniet en baljaar. Hy was so gelukkig - hy kon nie langer stil bly nie - hy moes iemand vertel.

Hy nooi sy beste maat - Peet, om saam met hom bos toe te gaan. Daar gekom haal hy ewe opgewonde die bal af. Maar sy maat deel nie in die vreugde nie. Sy reaksie was teleurstellend uit Tommy se oogpunt. Sy maat sê vir hom: Nee man, sit terug die bal, is jy nou dom of wat het oor jou lewe geloop? Waar kry jy die idee?

Tommy het gesien dat hy alleen is - hy kan dit met niemand deel nie. Sy maat het toe huistoe gegaan.

Tommy het besef dat hy 'n besluit moes neem, wat sy hele lewe sou raak en hy het ook! Hy maak die bal los en stap in die hoofstraat af, met die bal onder sy arm. Die mense op die straat het hom verbaas aangekyk en gesê: Kyk daardie vreemde kind, is hy dom of rebelleer hy? Wat gaan aan?

Tommy se eie huismense het gesê: Jy kan slegs een van ons wees as jy die bal aan het, anders is jy nie meer soos ons nie.

Tommy het besluit hy gaan sy vryheid behou. Hy het weggetrek na 'n ander ver vreemde land, waar hy waarlik vry kon lewe.

Is ons ook nie baie keer soos die mense van Lanklonia nie - dat ons 'n swaar ysterbal met ons saamsleep nie. Wat jou ysterbal is weet ek nie, maar die meeste van ons het iets wat ons hinder om normaal en vinnig te loop.

Die hartseer van die hele situasie is dat ons die bal rondsleep asof dit natuurlik is, so asof dit bedoel is om so te wees.

Vandag is daar soveel druk op ons: daar is skool druk, werksdruk, daar is druk op ons verhoudings: - tussen 'n ou en meisie - tussen man en vrou - tussen ons as medemens.

Daar is soveel mense wat godsdienstig probeer wees, ons moenie geldgierigheid of selfgesentreerdheid vergeet nie. Ons veroordeel so maklik 'n ander, maar ons eie paadjie lê vol dorings. Soos 'n man eenmaal gesê het: as jy modder gooi, gaan jy later geen grond hê om op te staan nie.

Is ons ook nie baie keer geneig om tevrede te wees met tweede beste nie net soos die Lakoniërs. Ek wil sê ons het. Ons wil nie meer altyd bo uit kom nie. Ons maak die beste van ons tweede plek.

Jesus sê in Joh 8:36: "Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees"

Vir die mense wat vanaand hier sit wat reeds uit die skool is, wil ek vra om 'n bietjie na te dink. As jy kyk na jou ou skoolmaats, kan jy sien watter van hulle goeie besluite rondom hul lewens geneem het. Hulle het volwasse geword en selfs as Christene gegroei. Mens is trots om met sulke mense vriende te kan wees, want jy weet hulle het iets bereik.

Hulle het sukses bereik, maar nie sukses volgens die wêreld se standaarde nie - maar sukses in die sin van hul eie vervulling.

Maar dan ken ons ook weer mense wat slegte/swak besluite geneem het en dit het hulle nadelig beïnvloed.

Mense wat op skool tevrede is met tweede beste - hulle is gewoonlik ook in die lewe na skool tevrede met tweede beste.

Omdat ons lewe op aarde so kort is, moet ons kies om die man of vrou te wees wat God graag wil hê ons moet wees, ongeag die ketting wat jy mee moet breek.

Met God se hulp kan jy die ketting breek en alles wees wat Hy jou bedoel het om te wees.

Jy moet die beste skolier wees wat jy kan wees, die beste sakeman, die beste huisvrou, die beste eggenoot, die beste kêrel, die beste meisie - so kan ek aangaan met die lys.

God wil hê dat jy en ek moet die beste wees.

Jy vra seker al: wat het dit met die Skrifgedeelte te make? ALLES !

Die hele hoofstuk vorm 'n eenheid - maar ons kyk vanaand net na die eerste perikoop/gedeelte. Met die klem veral op verse 6,7,8.

Ons sien die gedeelte begin met die woord "hierna".

Dit dui dat daar slegs 'n tydsverloop was - hoe lank weet ons nie presies nie, maar dit is ook nie belangrik nie.

Jesus kom na Jerusalem omdat daar 'n fees is. 'n Fees van die Jode. Watter fees dit was is nie belangrik nie, dit speel nie 'n rol in die verhaal nie. Dit kon die Purim of die Paasfees gewees het. Al wat belangrik is is om te let dat daar baie mense bymekaar is as gevolg van die fees en dat Jesus juis Jerusalem besoek as gevolg van die fees.

Wat was die Skaappoort? Die skape is hierdeur na die tempel gebring om geoffer te word. Dit was 'n aparte ingang tot die stad. Net buite die stadspoort. Die skape wat hierdeur gebring is is geoffer.

Die naam Betesda beteken: Huis van barmhartigheid.

Opgrawings het wel bewys dat daar so 'n bad was. Dit het uit twee poele bestaan - 'n grote en 'n kleintjie. Die kleintjie was 53m breed en 40m lank. Die grote was 57,5m breed en 65,5m lank. Dit was ook 7-8m diep. Dan die pilaargange was 6,5m breed. Dis glad nie 'n klein plekkie nie. Herodus die Grote het dit laat oprig.

Die water van die bad was bekend dat dit geneeskragtig was, en selfs blindes laat sien het.

Soms het daar van tyd tot tyd 'n sterk bron opgeborrel en dit het genesend gewerk.

'n Sekere teks in die Grieks sê dat dit 'n onsigbare engel van die Here was, wat die bad kom roer het.

Onder die siekes was daar 'n man gewees wat 38 jaar reeds siek was. Ons moet die 38 jaar letterlik opneem - dan besef ons hoe wonderlik die genesing van Jesus werklik was.

Hierdie hele gedeelte gaan om die openbaring van die heerlikheid van Jesus. Jesus kon 'n sieke gesond maak vir wie daar menslik gesproke geen hoop meer op genesing was nie.

Jesus vra:"Wil jy gesond word?" Jesus verlang by die man die gewilligheid om sy vertroue in Hom te stel eerder as in die water van die bad.

Jesus neem die inisiatief - net soos nou. Die man weet nie wie Jesus is nie - hy sien hom as 'n man wat hom kan help om by die bad uit te kom.

Want die eerste man wat ingaan nadat die water beweeg het - word genees. Die man antwoord nie: JA ek wil gesond wees nie. Hy begin onmiddelik met verskonings maak - hoekom hy nie gesond is nie.

Hierdie man het gewoond geraak aan die lewe daar rondom die bad.

Is ons ook nie so dat ons probeer die beste van ons tweede beste maak nie. Jy en ek het nie dieselfde ysterbal nie, maar ons het ook gewoond geraak aan die situasie en aanvaar dit so.

Ons is meestal gemaklik met ons sondes ook - en word ons gekonfronteer het ons 'n hele lys antwoorde en verskonings.

Jesus sê nou vir ons: Gaan jy nou gesond word of wil jy ook 38 jaar wag. Ons stel altyd uit om te doen wat die Here wil hê ons moet doen.

In 'n boek wat ek gelees het, het ek gelees van TNT - today not tomorrow. Kom ons leef voluit - kom ons wees die beste ek van nou af. Hoekom moet ons gemiddeld wees?

Jesus gee net drie kort bevele en die man is genees. Die man wat jare lank hulpeloos verlam was, het soos 'n normale gesonde mens sy beddegoed opgetel en geloop.

Eendag was daar 'n jongman wat 'n arend se eier gesteel het en onder die hen op die plaas gesit het. Die het die eier uitgebroei. Die arend het groot geword soos 'n plaas hoender. Hy het ook pitte loop en oppik. hy het nie gevlieg nie, want 'n hoender vlieg nie. Eendag vlieg daar 'n arend oor die hok. Die klein arend kyk op en sê vir 'n ander hoender: Ek wens ek kon so vlieg! Die hoender sê: moenie eers daaraan dink nie, jy is net 'n hoender. Die arend het gevrek as 'n plaas hoender. Al wat hy moes gedoen het was om sy vlerke oop te maak en te vleg. Om so die koning van die wolke te word. Kom ons maak ons vlerke oop en sweef of gaan ons ook as plaas hoender vrek.

Ek bid dat julle almal, jongmanne en jongvroue is wat bereid is om te breek met tweede beste en dat jy bereid is om JA te sê vir Christus en dat jy bereid is om hoog te sweef.

Om die beste te wees soos Christus ons wil hê.

Dit kan nie gebeur deur verskonings of drome nie.

Dit kan slegs gebeur as Jesus in beheer is en ons 100% voluit vir Hom leef en as Hy ons ambisies bepaal.

God gee die beste aan die wat die keuse aan Hom oorlaat.

Blaai saam met my na Jes.40:28-31.(lees dit voor as afsluiting)

AMEN


Terug na Jeugpreke
Terug na Hoofblad