Jeugpreke

ONS GEMEENTE IS 'N VETKOEKPALEIS!

 

Die liturgiese ruimte word effens soos 'n kafee (die Vetkoekpaleis) ingeklee. 

Drie ronde tafeltjies met tafeldoeke. 

'n Paar meisies (en seuns) kan voorskote aanhê.  (Plastiekvoorskote koop mens 50 vir 'n halfkroon.)  Gestreeptes sal natuurlik beter wees.

'n Versameling kleintjies (wat nog nie kan lees nie) is laat aansit. 

Die vetkoekies wat hulle dan kry, het elk 'n vlaggie met 'n woord op (soos die restaurante se 'well done'-vlaggies op die steak).  Later meer daaroor. 

Hulle kan dadelik hul vetkoekie eet. 

Aangesien hulle nog nie kan lees nie, roep jy elke keer 'n groter kind uit om te kom lees.  Dié kan dan dalk maar ook 'n vetkoek kry om daar en dan te eet.

Op die preekstoel is 'n skinkbord met klein vetkoekies gehad, elk met die genoemde vlaggie.

Op die vlaggies kan geskryf word, soos jy gelei voel, bv. die vrugte of die gawes van die Gees.  

Die kenmerke van die Evangelie kan ook geneem. Voorbeelde van vetkoekies kan wees:  Liefde, Vergifnis, Vrede, Blydskap, Krag, Wysheid, Bemoediging, Vermaning.  (Maw dit wat die Evangelie aan jou doen, wat jy "inkry" as jy by ons Vetkoekpaleis kom aansit)  Hier kan jy as liturg wegvat en bysit soos jy voel, bv. Gemeenskap van gelowiges en so meer.

 

Daar kan genoeg (savoury) vetkoekies gebak word vir die hele gemeente, om na die diens saam met konfyt en koffie te geniet.

 

VERLOOP VAN BOODSKAP

Teksvers:  1 Pet. 4:10: 

"As goeis bedienaars (kelners) van die veelvoudige genade van God ('n vetkoek met baie/verskillende vulsels), moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het (party is Worsies of Oom Frikkadels, ander is Boeboes, Sherridans, ens.) die ander dien."  [Lees en verduidelik dalk heel aan einde van preek eers.]

 

Inleiding

Ons gemeente is 'n vetkoekpaleis!  Vetkoek = nederig, gewoon.  MAAR:  Paleis = die Koning s'n,  sy blyplek.

 

Punt 1

Die evangelie (boodskap van die Bybel) is 'n vetkoek met baie vulsels

Dis lekker EN dit gee jou krag.  Dié vulsels is soms soet, soms sout, soms selfs suur, maar dis altyd wat jy nodig het.  En wat is die vulsels?  Soos gesê Liefde, vergifnis, ens.  Laat 'n kleintjie dit kom haar en roep dan 'n groter kind om dit voor te lees.  Albei eet dan elkeen hulle s'n.  Preek dan 'n sin of twee wat dit beteken dat God ons liefhet, vergewe, vermaan, ens.

(Aan die grootmense:)  Watter vulsel het 'n vanoggend nodig? Ontvang dit sommer nou uit God se Hand, want ...

 

Punt 2

Dié heerlike, gesonde vetkoeke is heeltemal verniet!

(Dis voor die hand liggend hoe om hierop uit te brei.)

 

Punt 3

Die vetkoek van die Evangelie moet geëet word. 

Jy moet dit kom haal.  Jy moet dit kies. Jy moet dit jou eie maak.  Eers as jy die evangelie geëet het, sal jy die krag en seën daarvan geniet.

 

Punt 4

Die evangelie-vetkoeke is (ook) wegneem-etes/take aways. 

Baie mense is bang om na die Vetkoekpaleis (Kerk) te kom, maar hulle weet nie wat hulle mis nie.  Die vetkoeke moet na hulle gevat word.  Deur wie? ...

 

Punt 5

Ons is die kelners! 

Ons werk in die Vetkoekpaleis.  Elkeen het 'n werk.  Elkeen mag/moet 'n uitdeler van die vetkoeke met die baie vulsels wees.  Ons werke is verskillend.  Worsies, Boeboes, ens.  Maar ons moet eers self geproe het, voor ons dit kan aanbeveel.  Nie die engeltjies nie, maar ons beman die Here se Vetkoek-paleis.  Maar dan moet die Vetkoekpaleis mooi, wees, skoon wees, vriendelik wees, "kliëntgeoriënteer" wees, want...

 

Slot

Ons gemeente is 'n Vetkoekpaleis.

Ons is God se Vetkoekpaleis. 

Som dan vinnig op en vra ouderlinge om die 5 punte te herhaal, met die hulp van die kinders. 

Bring dan die teksvers by. "Dis presies wat die Bybel in 1 Pet 4:10 sê, al sê hy dit in moeiliker taal..."

En as ons na die diens elkeen 'n vetkoekie eet, (= 'n vorm van kindernagmaal!) sê dankie vir die wonderlike vetkoek van die Evangelie, maak weer 'n slag jou hart vol met God se goeie dinge, en vra Hom die krag om sy kelners te kan wees. 

Want:  Die Evangelie is 'n vetkoek met verskillende vulsels, en ons is die kelners wat dit die wereld in mag dra.

 

Amen


Terug na Jeugpreke
Terug na Hoofblad