Jeugpreke

Tema: Oor stofsuiersverkope en jou getuienis!?
(Hierdie boodskap kan wonderlik as 'n toneel opgevoer word deur die jongmense en so word hulle betrek. Die is 'n wonderlike inleiding tot 'n eie boodskap)

Jy sal dit dalk nooit oorweeg om 'n stofsuierverkoper te word nie! Ek wil jou egter uitnooi om saam met my by so 'n stofsuierverkoper te gaan leer - hoe om te getuig! Ek dink die volgende verhaaltjie gaan so duidelik wees dat ek nie eers daaroor hoef uit te wy nie.

Grove du Toit is 'n kęrel wat sy eie besigheid het! Hy verkoop stofsuiers. Die probleem is net dat arme Grove in die hele jaar wat verby is nie een enkele stofsuier verkoop het nie. Hy is so onsuksesvol, jy begin al glo hy verkoop vir die Blou Bulle stofsuiers. Sy pa en ma begin al krapperig raak: want vir die hele jaar lank moet hulle hom onderhou! En moenie vergeet: Daar is nog 'n meisie ook en meisies kan nogal duur items wees om aan te hou.

Maar kom ons gaan kyk hoekom die arme Grove so sukkel om stofsuiers te verkoop.
Ek sien hy is juis besig met een van sy stofsuiers.
Wag, hier kom sy buurvrou Adel aan. Sy't haar dik tjekboek in die hand. Lyk my Grove gaan besigheid kry.

Adel klop aan die deur.
Grove hoor en skrik. Hy skakel die stofsuier af en steek dit agter sy rug weg.

Kom binne!
Adel stap die vertrek binne.
Het ek reg gehoor? Ek is seker ek het jou met 'n stofsuier hoor werk? Wys de ding 'n bietjie vir my. Ek soek sterk na 'n nuwe stofsuier.

Nee, buurvrou, jy het jou definitief verbeel. Ek het nie 'n stofsuier om my lewe te red nie. Wel dan moet ek maar elders gaan soek! Adel verlaat die vertrek.

Grove: Ds, hoekom kry ek nie 'n stofsuier verkoop nie? Ek raak nou al moedeloos hieroor!

Grove, ek dink jy moet jou taktiek so 'n bietjie verander. Hier is 'n boekie met al die tegniese besonderhede van daardie stofsuiers van jou, in. Swot die inligting op en gebruik die feite om mense te probeer oortuig dat jou stofsuiers net die ding is.

Grove swot die boekie op.
Hy gaan klop aan André Visagie se deur. Kom ons hou vir hom duim vas.

André maak oop en Grove trek sommer weg en lees al die tegniese besonderhede van die stofsuier aan André voor. André beduie dat Grove mal is en klap die deur in sy gesig toe.

Grove: Ds, dit help ook niks nie! Hy het die deur in my gesig toe geklap. Ek het vir hom al die regte feite oor stofsuiers oorgedra, en hy wou nogtans nie luister nie. Dis genoeg om enige normale ou in 'n depro te laat gaan.

Ds: Grove, miskien moet jy jou stofsuiers meer aggressief bemark. Laat die mense weet dat hulle 'n behoefte aan stofsuiers het.

Grove praat baie hard met die omstanders: Mense, julle het 'n behoefte aan stofsuiers! Julle huise is vieslik vuil. Sonder hierdie stofsuiers van my gaan dit nag wees in julle huise. Dis julle laaste kans on stofsuiers te koop! Wee, julle as julle nie koop nie.

Hy wag. Niemand kom koop nie.

Ds, hoekom wou niemand terugkom en een koop nie? Hulle het dan almal so belangstellend gelyk?

Ds: Nee, ou Grove, ek sou nie kon sę nie. Hulle koppe is vol van die krieket en rugby dat hulle nie meer bewus is van wat regtig in die lewe belangrik is nie...

Grove gaan voort om met sy stofsuier te werk.
Adel stap onverwags in en hou hom hande op die heupe dop.

Hoor hier, daardie stofsuier van jou werk uitstekend. As hy daardie vuil mat so mooi skoon kan maak, wil ek beslis ook een hę! Kom, verkoop daardie stofsuier aan my!

Grove beklink die transaksie en albei gaan sit.

Ek hoop jy "kop" dit: Jy kan nie 'n stofsuier verkoop as jy dit wegsteek of die mense verskreeu en dreig of wanneer jy net toesprake hou oor hoe goed die ding is nie! Jy gaan dit alleen regkry as mense oortuig is die ding werk wonderlik. Hulle moet 'n demonstrasie daarvan sien.

So werk dit ook mos met die evangelie wat ons aan mense wil "verkoop". Mense "koop" dit as hulle dit in jou lewe sien werk. Sę my, is dit so in JOU lewe?

Van iemand wat ook hard probeer om 'n demonstrasiemodel vir die Here te wees...

Terug na Jeugpreke Terug na Hoofblad