Jeugpreke

Hand 2:42-47

Om vandag oor die kerk te praat - is om baie mense kwaad te maak en ander weer stil te maak. Oral hoor ons, die kerk is nie meer wat dit was nie! Maar is die kerk wat dit moet wees?

Kom ons lees vanoggend saam met mekaar hoe Lukas die eerste gemeente beskryf. Hoe Lukas die kerk, die eerste gemeente, hier beskryf, kan afgemaak word as 'n verbeeldingsvlug, maar ons het geen rede om te twyfel dat hy hier wel die eerste gemeente beskryf nie.

Kom ons lees saam van Hand 2:42-47.

Om kerk te wees is om op Jesus gefokus te wees en daarom wil ek hê dat ons vanoggend se preek aan die hand van Jesus se naam sal onthou - hoe die kerk moet wees.

J = Jubelend

E = Eenheid

S = Sorg dra vir mekaar

U = Uitgeleef

S = Sendende gemeente

Jubelend

Ons as mens kan nie net bly word wanneer ons wil of lus het nie. Jy kan kan iemand 100 maal aan sê om bly te wees en nogtans geen reaksie kry nie, omdat die vonk van blydskap nie in sy hart aangesteek is nie. Ons lees in v46 en 47 dat hulle met blydskap gedeel het en dat hulle God geprys het.

Dit was 'n kenmerk van die eerste gemeente - die blydskap.

Is ons gemeente vandag, ons kerk van vandag - is ons nog 'n jubelende gemeente? Hoekom gaan die jongmense en ek let deesdae ook ouer mense na ander kerke om lekker saam te sing en om God se naam groot te maak. Wanneer ons in die erediens sing - sing ons net om by die volgende elemente van die liturgie uit te kom of sing ons om God se naam groot te maak? Kom ons sit net so en dan sing ons Ges.10:1 tot lof van die Here, en met volle oorgawe en uit die hart.

 

Die twee groot voedingsbronne van die blydskap is ons verlossing aan die kruis en die vooruitblik op die toekoms heerlikheid - dit is die wederkoms. En tussen die kruis en die wederkoms staan die nagmaal. Dit maak my so hartseer as ons as kerk nagmaal vier en dit met so 'n begrafnisstemming.

2.Eenheid

Die verlossing aan die kruis bind ons as gelowiges aan God en aan mekaar. Daarom beklemtoon Handelinge die eendragtigheid van die gelowiges. Dit het vir hulle nie net die eie ervaring gegaan nie, maar ook om die hele gemeente.

Daar is party mense vandag in die land wat die gedeelte ondersteun Christelike kommunisme, maar nêrens in die gedeelte word privaatbesit opgehef nie. Dus het ons hier met 'n gemeente te make wat totaal op Jesus aangewese was. Hulle het Jesus se wederkoms baie spoedig verwag.

Daarom net soos hierdie eerste gemeente moet ons as gemeente en as N G Kerk nader aan mekaar gebind wees. Ons as gemeente mis partykeer die doel van kerkwees as daar oor eenheid gepraat word.

Ek wil nie oor eenheid tussen wit en swart kerk praat nie, ek wil praat oor die eenheid in Mondeor gemeente.

Kan ons werklik sê ons is 'n eenheid?

Ek wil sê JA.

Jesus bind ons saam. Daarom gaan ons vanaand saam sy nagmaal, sy liggaam en sy bloed gebruik. Dis teken van ons eenheid. Ek glo net nie dat ons elkeen die gawes wat God ons gegee het tot die volle potensiaal in diens van God en sy gemeente gebruik nie.

3. Sorg dra vir mekaar

Hierdie eerste gemeente het God eerste geplaas, dan hulle mede gelowiges - dan hulle self. In vandag se wêreld gaan baie om die eie ek. En ek wil sê dit is amper aanvaarbaar. Want as jy nie vir jouself sorg nie - wie gaan dit anders doen?

Ons is almal so besig, en ons het nie altyd die tyd om oor ander sorg te dra nie. Ons is vandag mense wat al hoe meer geïsoleerd leef. Ons het roetines en tyd geskedules.

Maar het u dit al beleef om 'n Christen vriend te hê met wie u alles deel en wat saam bid vir u probleme. Ons as Christene moet baie ernstig vir mekaar begin sorg. Want as ons as gemeente dit nie doen nie, die ander kerke en sektes doen dit wel. Ons dink mense gaan uit die kerk oor redes soos: groot doop, sand ens. Maar een van die groot redes is hulle aanvaarding en sorg in ander kerke.

Hierdie eerste gemeente het mekaar totaal en al op die hart gedra. As een nood of behoefte gehad het is aan hom voorsien. Laat ons sorg dra vir mekaar - en terwyl ons nagmaal vier, laat ons met blydskap terug dink aan die kruis, want Jesus ons grootste sorg - ons sondes - het Hy op Hom geneem. Hy sorg so vir ons - dat ons die ewige lewe kan kry. Laat ons ook sorg dra vir ons mede gelowiges.

4.Uitleef

Ons lees in vers 47 - "en die volk was hulle goed gesind".

Hierdie eerste gemeente het elke dag by die tempel bymekaar gekom. Hulle was 'n hegte eenheid en het baie vir mekaar omgegee en vir mekaar gesorg. In die Joodse samelewing was dit iets vreemdes. Hierdie prentjie van 'n groep mense wat waarlik gelukkig was en opregte gemeenskap met mekaar gedeel het - met 'n diepe toewydings gees aan God, het 'n groot indruk gemaak op die mense buite die gelowiges.

Hierdie gelowiges het steeds die Joodse erediens bygewoon. Behalwe hulle het net nie, meer offers vir hulle sondes gebring nie. Naas hierdie tempeldiens het 'n ander vorm van godsdiens beoefening ontstaan, naamlik die liefdesmaaltye en die viering van die nagmaal. Hierdie maaltye is gekenmerk deur eenvoud en suiwerheid van hart wat alleen op God gerig was en deur besondere blydskap.

Kyk ons na vandag is ons situasie basies dieselfde. Daar is steeds mense wat buite is en die Christene, of dan die kerk baie krities dophou. Maar ons moet hulle geen rede geen om 'n vinger na die kerk te wys nie. Goed, daar is geen volmaakte kerk in die wêreld nie. Maar in die nagmaal, deur die nagmaal te gebruik is die hoogte punt van fees viering en kan ons ons geloof uitleef deur die nagmaal te gebruik. So wys ons vir die wêreld ons vier 'n fees waaraan hulle geen gelyke het nie. Ons moenie ons geluk net bloot innerlik voel nie, dit moet woorde en 'n mond word.

 

 

5. Sendende_gemeente

Hierdie eerste gemeente het baie vinnig vermeerder. As ons die hele boek Handelinge beskou sien ons dat hulle was 11, toe 120 in die bovertrek en toe 3120 na die eerste preek en later 5000. Hierdie mense kon net nie stil bly nie, almal het geweet van hulle en hulle toewyding aan God was merkwaardig.

Ons lees ook in vers 47, dat die Here elke dag mense wat gered is, by die gemeente gevoeg het.

Ons elkeen 'n dissipel van Jesus. Ons het elkeen ons werksterrein vir Jesus, of dit by die huis, die winkel, die kantoor, die skool is. Ons het elkeen ons plekkie.

Laat ons as gemeente so kerk wees dat almal wil weet wat gaan aan daar by Mondeor

.

Ons hele gemeente is soos 'n simfonie orkes. Ons is elkeen 'n instument wat bydra tot die mooi klank wat voort gebring word.

Maar ons almal moet vir die dirigent kyk. Ons moet Hom dophou, dat ons weet hoe om mooi en reg te speel. Jesus is die kerk se dirigent.

Hy nooi u elkeen om nou saam te kom fees vier, dat ons weereens, soos die eerste gemeente in Handelinge met blydskap sal onthou wat Hy aan die kruis gedoen het en wat met die wederkoms vir ons wag.

Onthou: Jubelend

Eenheid

Sorg dra vir mekaar

Uitleef

Sendende gemeente

Ons moet die vyf elemente in ons gemeente laat waar word en u sal saam met my beleef dat die nagmaal nie 'n begrafnisdiens is nie, maar 'n groot vreugdefees. Kom beleef dit vanaand.

AMEN.

 


Terug na Jeugpreke
Terug na Hoofblad