Jeuggesprek-
forum


Jeug-aktueel


Jeugprogramme
en speletjies


Kinder- & Jeugpreke


Kampe


Artikels


Die Boekrak


Jubel oor Jesus


Werkterreine


Onderwyssake


Beurse & Toekennings


AJK Inligting


Skakels

Die Boekrak

Al die boeke kan bestel word by 0800 231 231 en navrae kan gerig word aan mlu@luxverbi-bm.co.za



Nóg stories vir jong-ore - Ewald van Rensburg

Ewald van Rensburg se 30 STORIES VIR JONG-ORE is in 1999 bekroon met die ATKV-prys vir die Beste Kinderboek. Hy het nou 'n waardige opvolg vir dié topverkoper die lig laat sien: NÓG 30 STORIES VIR JONG-ORE. Die boek is veral gemik op kinders wat tussen 5 en 9 jaar oud is.

Die kuns van storievertelling bloei in die jongste tyd en ouers wat hulle kinders wil grootmaak in die Christelike tradisie kan hierdie dertig ware verhale en ander tydlose stories gerus vir hulle kinders voorlees. Van Rensburg vertel die stories besonder goed en op die klassieke manier. Sodoende is die vermaaklikheidswaarde uitstekend terwyl die boodskap van die liefde van God en die beeld van Jesus eerlik en duidelik oorgedra word. Soos dit altyd met goeie stories gaan, sal ouer kinders, ouers, kampleiers, onderwysers en ander volwassenes ewe lekker hieraan lees. Die stories is kort en lees maklik. Van Rensburg se woordkeuses is toeganklik vir sy teikenlesers, maar daar is geen teken van gedwonge moderne taalgebruik nie.

Formaat: Sagteband
Prys: R27.95



Nóg 30 stories vir tiener-ore - Ewald van Rensburg

Ewald van Rensburg het reeds groot sukses gehad met sy topverkopers 30 STORIES VIR TIENER-ORE en 30 STORIES VIR JONG-ORE. Sy jongste, NÓG 30 STORIES VIR TIENER-ORE, is 'n waardige opvolger.

Hierdie verhale sal tieners wat 'n behoefte het om in Jesus se voetspore te volg in hulle geloof versterk en verryk. Eweneens sal dit ander denkende tieners AANMOEDIG om dieper te dink oor die lewe en hulle aanspoor om nader aan Jesus te leef.

Van Rensburg is 'n bobaas-storieverteller wie se bron heerlike stories oënskynlik onuitputlik is. Die stories wissel van die bekende moderne tot die klassieke en selfs die eksotiese. Dit bring mee dat die leser nooit moeg raak omdat daar 'n eensydigheid in styl, aard of tydperk is nie. Hoewel die idee is dat daar 'n storie vir elke dag is, sal vele lesers vind dat hulle dié boek nie kan neersit nie.

Hierdie boek met sy vrolike buiteblad en onveroordelende inhoud is die ideale geskenk vir tieners, maar sal ewe veel byval vind by ouers, onderwysers en jeugwerkers.

Formaat: Sagteband
Bladsye: 88
Prys: R27.95



Die tjoklit-teepot - David Lawrence

Amper-tieners word so dikwels afgeskeep as dit by jeugboeke kom, maar Lux Verbi.BM het pas 'n heerlike geskenk vir hulle gepubliseer. Die tjoklit-teepot, is 'n prettige, humoristiese oorlewingsgids. Veral vir dié wat voel hulle kry net nie hulle hare punterig genoeg gejel nie of hulle maak dit nie regtig by die skool nie. Leerders wat voel hulle sukkel met taai situasies, sal vind dié boekie is vol wenke om hulle lewe minder ingewikkeld te maak. Dit lees besonder lekker en maklik en is skreeusnaaks. Die aanbieding en taalgebruik is ook reg in die smaak van die teikengroep. Lawrence se gids help hulle om nie, soos 'n sjokolade teepot, te smelt of te vou as hulle naby die warmwater kom nie.

Die skrywer gebruik klas- of speelgrondsituasies waarmee leerders hulle kan vereenselwig, maar hy respekteer die leser en gee nie voor dat hy een van hulle is nie. Dít dra by tot die integriteit van die boek. Sommige van die probleme waarna gekyk word, is hoe om boelies te hanteer, of mislukkings, of hoe belangrik dit is om aanvaar te word deur die in-groep. En of dit die moeite werd is om aanvaarding na te jaag ten koste van ander verhoudings? Elke humoristiese situasie word gevolg deur 'n soortgelyke een uit die Bybel, wenke oor die sinvolle hantering van die probleem en ook 'n gedeelte waar die leser sy eie brein moet tap.

Formaat: Sagteband
Bladsye: 143
Prys: R36.95



Wenke wat werk
Praktiese Gids vir Dinamiese Kinderkransprogramme
Uitgegee deur die Algemene Jeugkommissie.

Hierdie is 'n alles in een boek - 'n moet vir elkeen wat met die voorskool, laerskool kind werk. Elke gemeente behoort die boek te besit en aktief te gebruik. Die inhoudsopgawe van die boek lyk as volg, dit sal 'n prentjie gee, hoe volledig die boek is:

1.'N WOORD VOORAF
1.1. Inleiding
1.2. Die kind in die JKJA ? Kinderkrans
1.2.1. Kenmerke en Ontwikkelingsfases
1.2.2. Betrokkenheid
1.3. Beginsels wat deurgaans geld
1.4. Riglyne vir lesaanbieding

2. KINDERKRANS BEPLANNING
Inleiding
2.1. Langtermyn Beplanning
2.2. Jaarbeplanning
2.3. Kwartaalbeplanning
2.4. Middagbeplanning

3. PRAKTIESE WENKE
3.1. Wenke vir 'n pakkende inleiding
3.2. Wenke ivm die hantering van die Bybel
3.3. Wenke vir die memorisering van Bybeltekste
3.4. Wenke ivm sang
3.5. Wenke vir doeltreffende hulpmiddels
3.6. Wenke vir vaslegging en hersiening (met voorbeelde)
3.7. Wenke ivm evaluering

4. PROGRAMMATERIAAL (vir 'n jaar op 'n slag)
4.1. Geloofsekerheid
4.2. Sending
4.3. Gesinsverhoudings
4.4. Natuurbewaring
4.5. Naastediens
4.6. Gebed

Hierdie boek maak kinderkrans maklik vir enige persoon.
Die boek se prys is R80,00
Bestel die boek by:
NG Kerk Jeugboekhandel
Posbus 396
Bloemfontein
9300
Tel: (051) 447-7778



Omdat ons klein is
Cas Vos (red.)

Elke preek bevat voorstelle vir die liturgiese orde, soos

  • liedere
  • die seëngroet
  • die wet
  • gebede
  • die geloofsbelydenis
  • die kollekte
  • die hulpmiddels by die preke (van die preke het selfs sketse by wat gebruik kan word)
  • hoe die hele gesin by die diens betrek kan word.

Agter in die boek is daar ook

  • 'n indeks vand ie Skrifgedeeltes waaroor die preke handel.
  • 'n indeks van preke vir spesiale geleenthede, soos tye in die kerklike jaar.

Omdat ons klein is, is ideaal vir

  • predikante wat kinders aktief wil betrek by die erediens
  • onderwysers wat op soek is na aangrypende boodskappe vir saalbyeenkomste.
  • Ouers wat interessant en relevante onderwerpe soek om met hulle kinders oor te gesels.

Hierdie is 'n MOET vir elke predikant.
Die koste van die boek beloop R59,95.
Bestel by: 0800 231 231



Dit is die lewe
Deur Anna-Marié Franken & Cassie Carstens

31 aangrypende ware verhale wat jou sal uitdaag om vir Jesus te lewe en om te lewe soos Jesus toe Hy op die aarde was.
Lees die verhale en jy sal leer wat is ware: deernis, betrokkenheid, liefde, vergifnis, getuienis, standvastigheid, opoffering en getrouheid.
Hierdie boek is 'n ware uitdaging vir elke jongmens wat moed het, om vir Jesus te lewe.
Een van die verhale is as volg:
Geloof in iemand gee nog 'n kans
Ek stop by die skool op 'n klein plattelandse dorpie. Een van die kinders het aansoek gedoen vir Diensjaar, maar invloedryke mense in die dorp keur dit glad nie goed nie. Sy reputasie is nie so wat wonders nie, sê hulle. Hy het bietjie drooggemaak. Die skoolhoof voel darem ek moet hom 'n kans gee.
Ons gee hom 'n kans. Op Maselspoort kom hy langhaar, casual aan. En hy begin float maar so saam met die ander ouens.
Christo Greyling bied 'n vigsprogram aan en die spanne besoek Sparrows Nest in Soweto - 'n huis waar kinders met vigs versorg word. Tydens die besoek tel hierdie Diensjaarlid 'n klein seuntjie in sy arms op. En net daar gaan die hemel vir hom oop en hy ontmoet God.
Terug by die kampterrein stap hy die veld in. En hy en die Here sort 'n paar goed uit. Toe hy terugkom, is hy 'n nuwe mens. Sigbaar nuut. So dat ander daarvan praat.
En so begin Drikus se pad saam met Jesus. By die huis het niks verander nie. Sy ouers is steeds geskei, hy battle baie dae. Maar God het belowe: Hy sal die goeie werk wat Hy in Drikus se lewe begin het, klaarmaak.
Lees 2 Kor 2 : 7-8.

Hierdie boek is by Lux Verbi.BM beskikbaar.
Vir bestelling skakel 0800 231 231.



30 Stories vir tiener-ore
Ware verhale en ander stories wat God laat leef op die lippe van tieners.
Geskryf deur: Ewald van Rensburg

As jy van stories hou wat 'n boodskap het, of net lekker lees stories, dan is die boek die ideale boek vir jou. Die boek bevat 'n hele bondel ware verhale en ander tydlose stories wat tieners sal laat nadink oor die lewe en hulle sal aanspoor om al hoe meer soos Christus te leef.

Bestel die boek by Lux Verbi.BM by 0800 231 231.
Die prys is: R26,95

Na Die Boekrak se Argief
Terug na Hoofblad